Biografie

Sy word as een van SA se supercool A-lys sterre beskou... tog dra haar alter ego die kroon as die “kômminste girl oppie teevee”.
Sy sit met ‘n meestersgraad in die regte agter haar naam... tog speel sy haar sepie-rol as ‘n ongeslypte rowwe diamant só ooruitgend dat mens soms wonder oor wie sy werklik eintlik is...
Sulke uiterstes is maar net ‘n paar van vele kontrasterende aspekte in hierdie multi-talentvolle kunstenaar se kraal.

Welkom by die alter ego & preutse koekie se tweegeveg:
Dis FLOOZE versus SORINA
ZEFFER versus TREFFER
GLITTER versus SKITTER
WILLER versus STILLER

Haar vorige album HOEZIT MY TJOMMA het goue status bereik en haar welbekende Floozerayna moves is so aansteeklik soos waterpokkies in Witbank. Maar met haar nuwe album “EK WATCH JOU” is die groot vraag egter: WIÉ WATCH DIÉ RONDTE VIR WIÉ...

In hierdie nuwe album word die kontras tussen al die verskeie vlakke en fasette van haar God-geseënde talente en genade-gawes tot die uiterste aan die publiek bekend gestel . Die ondertoon van die album is ‘n samesnoering van emosies in die oortreffende trap – want hierdie keer lag ons dat die valstande rol, sing ons dat die kranse antwoord gee, dans ons soos kaalvoet-lovers in somerreën, leef ons asof die uurglas reeds leeggeloop het en helaas huil ons saam almal wie langs die pad die stryd verloor het.

Sy het al die liedjies op die album self geskryf en met die hulp van ‘n span ewe-kreatiewe vervaardigers druk sy haar stempel behoorlik af as liedjieskrywer.

SORINA SE GROOTWORD JARE EN SWAARKRY TYE (VOOR DIE FLOOZE)
Sy is ‘n doodgewone maltrap-meisiekind wat groot geword het op ‘n plaas in die Bosveld, Naboomspruit. Na skool het sy haar regsgraad aan die Universiteit van Pretoria behaal waarna sy ook haar meestersgraad in kinderreg verwerf het. Sy het egter besluit om haar op die kunste toe te spits en het helaas drama gaan swot by die eertydse Technikon Pretoria (deesdae TUT).
Gedurende haar eerste vryskutjaar as aktrise was sy dikwels mismoedig omdat min of soms geen werk haar kant toe gekom het. Uit pure radeloosheid skryf sy daardie jaar ‘n liedjie “en sit sommer ‘n wysie daarby”. En so ontdek sy ‘n verborge talent toe haar eerste liedjie by name Plankevrees ‘n paar minute later gebore is. Sy skryf dit in 2004 vir ATKV se Crescendo liedjieskryf-wedstryd in en dit dring deur tot die semi-finaal. Dis toe dat sy pen op papier begin sit, skryf soos ‘n tikmasjien en die daaropvolgende jaar eindig met ‘n plek in die finaal.
Die werkloosheid het egter steeds hard aan haar deur geklop, maar geduld en geloof het haar tydens dié moeilike jare laat aanhou glo dat sy eendag die vrugte van God se genade sal pluk en ‘n paar jaar later is  haar cv verseker ‘n bewys daarvan. Op haar kerfstok is immers nie net die bogenoemde televisie-werk nie, want sy het haarself ook as ’n professionele aktrise in die teater gevestig met verhoogstukke/kabarette soosSwartskaap (saam onder andere Dawid Minnaar), Haar Hare (met Karen Wessels, Lindie Stander, Bertha le Roux & Alexa Strachan), Leunverklikker (met Tobie Cronje as regisseur) Assie Kluite Klop (met Sandra Prinsloo as regisseur en Christa Steyn as musikale regisseur) en ’n KKNK hooffees produksie Ons wil lewe; Ons gaan sterwe(wat sy in 2008 self geskryf en die regie behartig het).
Deur die jare van televisie en teater het sy steeds haar talent as kreatiewe liedjieskrywer verder ontgin en in 2007  is 19 siel-songs vasgevang in haar eerste on-afhanklike cd getiteld Engel met ’n Angel. Vandaar is die “sing-ding” egter aan die rol gesit en sedertien is daar geen keer aan hierdie go-getter tjomma nie.
Tog, ten spyte van al die sukses wat sy al bereik het, bly haar lewensleuse steeds die eenvoudige dog treffende woorde van Koos du Plessis: “Wat ek is, is net genade. Wat ek het, is net geleen” en gaan al die eer in haar lewe aan haar HERE GOD.